Thursday, February 17, 2011

Terugvoer 18 Feb

Dit het heel goed gegaan vandag.

Taal & woordeskat:
Ons het begin met die Bybelstorie waar Jesus en Petrus op die see loop - daaar was nie so baie belangstelling nie, maar dit was gelukkig net 'n kort storie. Toe het ek hulle die storie gelees "A Shark in the dark" maar ek het dit losweg vertaal in Afr. Dit het almal se volle aandag geniet - dalk omdat ek dit so oordramatiseer het!

Wetenskap & Biologie:
Daarna het ons op youtube die viseiers videos gekyk en ook hoe haaie en walvisse uit die see spring.en ook van seeperdjies.

Kreatief & Fynmotories:
Toe gaan doen ons die seeperdjie prentjies

Alex wou eerder sy papiertjies buite die seeperdjie plak en moes hom heeltyd oortuig om dit binne te doen - maar nou ja hy het seker kunstenaarsvryheid of hoe?

Daniël het hoegenaamd nie belanggestel nie, hy het heeltyd kop onderstebo gesit en frons terwyl ek vir hom gewys het, so toe los ek hom maar.

Simeon het dit baie geniet en het elke liewe laaste dingetjie self geplak op sy prent. Hy het mooi gekonsentreer de heeltyd.
Verbeeldingspel:
Daarna het hulle buite gespeel in die tuin met die diere en dino's


Ek het ook vir hulle n groot stuk papier neergelê en bome en grotte vir die diere geteken en paaie vir die karretjies

Hulle self ook dinge bygeteken.



Snacktime:
Ons het toe geëet. weer die seewiere eier en pasta fritters, Simeon wou dit nie probeer nie, maar die ander twee het dit geniet. Hulle het ook popcorn gehad - die keer ongekleur - wat viseiers voorgestel het, maar die gedagte het amper vir Simeon daarvan ook afgesit, maar hy het darem later die moed bymekaar geskraap om dit te eet! Lyk my hy gril nogal maklik, te dierbaar.

Musiekwardering:
Ons het ook musiek geluister en gedans en dit was baie goed bygewoon!

Grootmotories:

En ons het die vilt vorms gebruik vir speletjies en veral Daniël was mal daaroor om op die vorms te spring. Ons het toe sommer n "hopscotch" paadjie uitgepak waarop hulle gespring het.

Verder het ons net vryspel gespeel en die laaste halfuur het ek hulle laat TV kyk want hulle was baie adamant daaroor!

oulike idees

worsie en spaghetti
spel met duplo
wowee windows!
Ink stamps

Terugvoer van 17 Feb 2011

Hi julle hier is wat ons gedoen het vandag. Gideon en Dirk was by my gewees vandag en die babas en Samantha.

Dit was 'n heerlike dag en alles het so mooi verloop (en dis net 'n genade want ek het nog 08:15 nie 'n clue gehad wat om met hulle te doen nie!)

Grootmotories:               
Ons het eers bietjie buite gespeel op die buitebande. Ons het dit in 'n ry getrek en treintjie liedjies gesing terwyl hulle daaroor geloop het en gebalanseer het.  (ek weet dis nie in die tema nie, maar Gideon het my 2 keer gedurende die dag gevra wanner gaan ons trein liedjies sing en trein prentjies inkleur...  dalk kan vervoer ons volgende tema wees?)

Fynmotories en kreatief:        
Dirk kon nie wag om vir Gideon te gaan wys dat ons seeperdjie prentjies gaan maak nie, so dit was volgende op die agenda. Dit was stukkies tissue papier wat ek geknip het voor die tyd wat hulle geplak het met klaletjies en sequins.Hier is die resultate:


Dit is Dirk se "glimlag vir die kamera" look.

Wetenskap:
Ek het hulle 2 videos op youtube gewys hoe vissies eiers lê en hoe die eiers uitbroei:
want dit sluit later aan by ons middagete.

Ruimtelike persepsie:
Daarna wou Gideon graag blokkies bou en hy was so kreatief om 'n vistenk te bou - heel toepaslik - ons het toe die badspeelggoed vissies daarin gesit.


Snacktime:
Toe het ons geëet. Ek het skroef pasta wat groen en rooi en geel gekleur was gekook en dit gemeng met 2 geklitsde eiers en gerasperde kaas en dit in die pan gebraai. Hulle het by my op stoele gesit. Ek het sommer gesê ons maak koekies met korale en seewiere in! :)


Vryspel:
Ons het buite gespeel en vir hulle elkeen 'n tuinslang gegee want hulle wou my help om die tuin nat te lei. Vele hande maak ligte werk!
en daarna het ek vir hulle "sticky vis eiertjies" gemaak. Dit is maar net versuikerde springmielies en hulle was mal daaroor as ek die deksel oplig en die mielies spring die wêreld vol! 

Ek het die blou gekleur omdat dit ons kleur vir die maand is

Dit wou nie droog word nie, so toe is dit maar sticky viseiertjies. Ek het dit vir hulle buitentoe gebring terwyl hulle met die tuinslange gespeel het en gevind hulle is papsopnat, toe ontklee ek hulle maar terwyl hulle die popcorn eet. Hulle begin toe om die blou suikerstroop oral op hulle lyfies te smeer! 


Gelukkig het ek die baba swembadjie byderhand gehad!


Hier is 'n video - Gideon het gedink dis vreeslik snaaks en wou dit omtrent 5 keer kyk!


Dit was 'n baie lekker dag vol pret!



Thursday, February 10, 2011

Die kinders se kunswerkies

Hulle was vreeslik trots hierop, dit moes selfs langs hulle bordjies staan toe hulle geëet het!



Wednesday, February 9, 2011

Tema: Die See

Die volgende 2 weke se tema is: Die See (Alhoewel ek dink daars soveel wat mens kan doen, dalk is ons lus om dit 'n derde week uit te rek tot die einde van Feb??)

Kuns projek:
Ek het die idee gesteel van Mister Maker op Televisie.



Dit is 'n plastiek bordjie waarop ek klapper vasgeplak het vir sanden dan kleideeg gemaak vir die rotse. Die pypskoonmakers kan mens verf of gekleurdes gebruik , die gekleurde geknipde strooitjies is korale, die haai is van spons gemaak. Die boontjies stel mossels of klippe voor en die vissies staan op tandestokkies ingesteek in die klei. Die seekat hier voor is 'n plastiek speelding. Dan kan mens nog alge en bamboese uitknip uit papier en dit ook in die klei indruk.

Taaloefeninge:
Woordeskat: Matroos, Albatros, Oester, Garnaal, Seegras, Seefauna, Seeflora, Lewensredderbaadjie, Skitterend, Walvis (uit die storie: 'n Opwindende Reis onder die see)

Idioom:
Soos 'n vis in die water    -    Baie Tuis
Die see kan hom nie skoon was nie  -  Hy is 'n baie slegte persoon

Rympie:

Onder die see diep en blou
Is baie diertjies waarvan jy hou
’n Skilpad, ’n ster, ’n seekat wat klou
Garnale en krewe wat die bodem skoon hou

Tussen seewier en gras word jy dalk verras
Daar’s ’n oester, ‘n pêrel, ’n jellievis wat skok
Maar pasop tog dat jy die kwaai haai nie lok
Soek eerder die liewe seeperdjie met sy grypstertjie.
Marlena Vernter

Wat is die meervoud van:

Een skulp, baie ________________
Een dolfyn, baie _______________
Een Pappa, baie  _______________
Een droom, baie _______________

Groot Motories:
Krap  -  Loop soos 'n krap deur op jou boede te gaan sit en dan jou lyf op te lig terwyl jy jou hande en voete op die grond hou - kyk wie kan die vinnigste krappie loop!
Jellievis  -  Staan regop en dril jou hele lyf soos 'n jellievis!
Duikboot  -  Blaas vanaand borrels in die bad.

Wiskunde:
Tel die vissies en skulpe (Kyk na uitgedrukte papiere)

Wetenskap:
Hoekom kan klein goggas op die water loop?
Doen Oppervlakspanning Eksperiment met 'n naald wat op water kan dryf 9Kyk na uitgedrukte papiere)

Skryf:
Maak ritmiese patrone - trek op die stippellyne (Kyk na uitgedrukte papiere)


Ietsie ekstra:
Maak jou eie badskuim - Dankie Ilonka, jy het dit reeds gedoen met Dirk en Alex!
Wat julle gaan nodig kry:     
                125ml sjampoe wat nie te erg gekleur is nie.
                180ml  water
                1.25ml sout
                Voedselkleursel van jou keuse
                Tandestokkie, lepel en mengbak
                Mooi bottel

In die mengbak – meng die sjampoe en die water.  Gooi dan die sout by en roer.
Dit word dikkerig na ongeveer ‘n minuut.
Voeg die kleursel bietjie vir bietjie met die tandestokkie by totdat jy met die kleur tevrede is.
Gooi dit nou in ‘n mooi houer en siedaar – badskuim!!


Thursday, February 3, 2011

3 Februarie verslag

Vandag het ek (Corli) vir Dirk en Alex en Anja en Bart gehad en Samantha het my gehelp.


Ons beplanning was as volg: (Met die actual verslag in blou tussen hakies)

1. Open met Bybelstorie deur Hasie Kalbassie vertel: Die storie waar Jesus sy disippels se voete gewas het – beklemtoon karakter eienskap nederigheid. (Die kinders het dit baie geniet en het heeltyd aandag gegee)

2. Dan kan kinders mekaar se voete was - skakel in by higiene tema (hulle het dit gedoen terwyl hulle agter my moes aan sê "Ek is die minste" en "Ek is nederig".)

3. Woordeskat: lees en herhaal die woorde vir die Higiene tema. (Ons het dit ook gedoen en ek het vir hulle gesê hulle moet my stop as hulle 'n "e" sien. Hulle was baie opgewonde as hulle een in die woorde raakgesien het.)

4. Toe het ons die rympie opgesê:
Hier is nou iets wat ek moet leer:
my hande was ek elke keer
net voor ek eet; dit is gesond
so bly die kieme uit my mond

5. Daarna hou ons Skattejag vir letter “e” – as weer toelaat, sommer buite. (Ja ons het dit buite gedoen en dit was baie opwindend)

6. Toe het ek hulle aan die blokkies bou gesit en hulle het vir lank in vrede gespeel terwyl ek die bak en brou goedjies reggekry het.




7. Ons het die rympie opgesê:
Hier is nou iets wat ek moet leer:
my hande was ek elke keer
net voor ek eet; dit is gesond
so bly die kieme uit my mond

en die liedjie gesing:
Vryf jou handjies teen mekaar, teen mekaar, teen mekaar, Vryf jou handjies teen mekaar as jy jou handjies was! 

8.    Bak en brou: Steek vierkantige blokkies waatlemoen, feta kaas en piesangwieletjies op ‘n sosatie stokkies. smeer blou versiersuiker op vierkante tennisbeskuitjies versier met silwer balletjies. Val weg! (Hulle het net een blokkie vrug op n slag op die stokkie gesteek en dit dan geëet, al het ek vir hulle 'n voorbeeld gewys, en hulle het die tennisbeskuitjies baie geniet. Ek het ook hulle water met blou voedselkleursel gekleur)


 
7.    Toe het ek hulle gesiggies met lappies afgevee en vir hulle 'n groot "e" op n skinkbord geteken met skeergêl. en hulle het dit ontsettend geniet om die "e" te smeer en te breek, dis baie goeie oefening vir tas, ons het bespreek dat dit glad en glibberig en sag voel.


Hulle het ook met hulle vingertjies geteken in die skuim - goeie voorbereiding vir skryf.
Dirk sê "Neeeee Mamma, moenie klaar!

Hulle wou nie ophou daarmee nie, so ons het dit 2 keer gedoen. Defnitief 'n wenner! En dit maak nie hulle klere vuil soos vingerverf nie.

8. Tafeltjie werk: knip en kleur tandjies werkstuk in (Ons het dit gedoen met blou kryte)

9.    Vryspel (In die sandput buite met die grafies en stootskrapers - en nogal in vrede ook!)

Tuesday, February 1, 2011

Tema: Familie

Omdat Dirk se Oumas en Oupas so ver woon het ek besluit ek gaan flitskaarte maak met hulle gesigte op om hom aan hulle te herinner. Ek het van die oumas ook gemaak, maar ek kry dit nou nie.

Wanneer ons familie doen moet ons vir elke kind sy gesin en oumas en ouas so lamineer.Dirk love syne as hy dit uitgrawe tussen sy speelgoed.

Kleur, Syfers, Vorm herkenning, Getal begrip en grootmotories


Hier onder is dit wat ek gemaak het uit vilt. Ek dink daar kan nogal n mark wees vir dit, want hoeveel educational speelgoed wat jou kleur vorm en syfers leer is geskik vir kinetiese leerders, soos ons sn!? 
My idee is dat mens die vorms op n mat uitpak en dan vir die kind se hy moet trap/spring na die volgende vorm.



Mens kan ook die syfers so gebruik. Dan kan mens dalk nog n stel syfers maak wat alles net swart is om verwarring met kleur van die vorms te vermy. Kan kan mens vir die kind die swart syfers aan die een kant van die sitkamer pak in n ry en die gekleurdes aan die anderkant, of selfs in sy kamer (dan bevorder dit ook geheue) en dan moet hy die kleur syfer by die swart syfer pas.



Mens kan die klein swart kolle gebruik om elke syfer uit te tel - ek wil eintlik genoeg maak dat mens al die syfers 1-10 se kolle gelyk uitgepak kan he. as die kind gereed is vir tel kan mens ook vir hom se hy met tel hoeveel kolle jy uitgepak het, en dan moet hy die syfer soek pas daarby pas...

die mootnlikhede is legio, maar die doel hoervan is dat die kind nie stilsit en konsentreer nie, maar eerder die heeltyd rondbeweeg, jy kan selfs die kolle "wegsteek" deur die vertrek en dan moet hy soek totdat hy genoeg het vir die syfer voor hom.

Die kind kan ook die hoeke van elke vorm uittel deur die swart kolle daarop te pak. Dirk het dit reeds vanoggend gedoen. Hy stel baie belang in die speletjie!

Februarie

Februarie maand fokus ons op die volgende:

Alfabet:  die letter "e"
Syfer: 1 een (dit het ook 2 "e's" in)
Kleur: Blou
Vorm: vierkant
Karakter eienskap: Nederigheid

Eeste 2 weke se tema: Higiene
woordeskat: gesond, siek, kiema, was seep, bad, tande, borsel, skuim

Twede 2 weke: ek sien op die kurikulum dit moet seker sintuie wees, maar kan ek seblief voorstel dat ons iets heeltemal anders as die liggaam en liggaamsdele doen? Kan ek voorstel "Die See"?
As julle bevestig sal ek die woorde daarvan doen...?

En dan wil ek net verslag lewer - Dirk kon al na die eerste dag die letter "e" uitken. Ek het dit oral in die huis opplak maar nie vir dirk daarvan gese nie, so elke keer as hy iewers gekom het was daar 'n  "e"! op die skuifdeur, venster, boekrak, teen die kombuis teels en toe hy in die bad sit en die laaste "e" teen die stort opgeplak sien se hy opgewonde: "NOG 'n "e"!!!!" so dit werk!