Monday, March 14, 2011

Terugvoer 14 Maart 2011

Die tema was herfs.

Hulle het begin deur blokkies te bou en terwyl hulle gebou het het ek vir hulle die storie vertel van die sprinkaan en die miere:



Die miere was druk besig om kos bymekaar te maak vir die winter. Dit was herfs en baie ander diere het ook voorberei vir die winter. Eekhoring het akkers en neute bymekaar gemaak, die bere het vir hulle 'n den gegrawe om in te hiberneer. Maar van al die diere en insekte het die miere die hardste gewerk. Maar Sprinkaan was baie lui, hy het niks gedoen behalwe slaap en peusel nie. Die miere het hom met hom kom praat en hom gewaarsku: "Jy moet begin kos bymekaar maak vir die winter, anders gaan jy honger lei!"
Maar Sprinkaan wou niks weet nie en het net vir die miere gelag wat so hard werk.
En die dae word kouer en kouer totdat die laaste herfsblaar val en die ysige winter aanbreek. Een oggend word sprinkaan wakker en sy magie grom van die honger, hy gaan toe buitentoe om kos te soek maar alles is doodgeryp en gevries. Hy kon nerens kos kry nie en gaan klop toe maar by die miere aan.
"Ag miere, eks vreeslik jammer, ek was baie lui in die herfs en nou is ek baie honger. Ek was verkeerd, sal julle my asb genadig wees en julle kos met my deel?"
"Goed," sê die miere, "Maar net hierdie een keer, volgende jaar moet jy jou sokkies optrek en saam met ons werk om kos te soek."
"Ja, ek belowe," sê die Sprinkaan. En so het sprinkaan sy les geleer om nie lui te wees nie.

Na die storie het ek vir die kinders videos op youtube gewys hoe eekhorings neute bymekaar maak en hoe bere hulle den voorberei. Ons het ook 'n video gekyk van hoe die derduisende monarch skoenlappers migreer van noord na suid.

Toe het ek vir hulle gese hulle moet ook blare en akkers op die gras gaan optel soos die eekhorings. en toe maak ons ons eie herfsboom.

Ek het 2 van Dirk se blare geplak as voorbeeld, maar verder het ek glad nie vir enige iemand gehelp nie


Verder het Sam vir hulle 'n beer den gebou van die banke in die sitkamer en n kombers vir die dak. Hulle het gespeel hulle is bere wat kos soek vir die winter wat kom. Ek het vir hulle snacks gebring soos kersies, worsies, tee terwyl hulle in die den speel. en toe maak ek vir hulle 'n herfstakkie met pampoenkoekie-blare. die takkie is van puffpatstry gemaak.


Toe het hulle (sonder toesig) die teddie potjie se plakkers afgetrek en gemaak of hulle bere is! ek het hulle maar laat begaan - dit val tog in die tema van bere wat hiberneer in die winter.


Ons het afgesluit met vryspel, en dit het oortuiging gekos om hulle in die kar te kry om te gaan! ons almal het dit baie geniet!

Sunday, March 13, 2011

Terugvoer Maandag 7 Maart

Hi julle,
Ilonka hulle was weg en ek het Theoline se kinders by my gehad. Ons het wetenskap gedoen deur insekte te teken (daar was nie baie belangstelling in die blare of blomme nie).




Ongelukkig het Simeon sy prentjie toegekrap toe hy nie tevrede was nie, maar dit was regtig baie geod gedoen.
Ons het verder oor stoomtreine, motorbote en resieskarre gepraat en ook 'n paar you tube videos gekyk.
Hulle het geklim en klouter oor die buitebande en  'n trein gemaak daarvan. Terwyl hulle daarop gespeel het, het ons die trein liedjies gesing, Babatrein en Kimberley se Trein.

vir middagete het ek vir hulle 'n boot gebou van ryevita met roomkaas en visvingers vir n mas en kaas seil. en vishappies (smackaroos) vir die wolke. die ertjies is die see.

Thursday, February 17, 2011

Terugvoer 18 Feb

Dit het heel goed gegaan vandag.

Taal & woordeskat:
Ons het begin met die Bybelstorie waar Jesus en Petrus op die see loop - daaar was nie so baie belangstelling nie, maar dit was gelukkig net 'n kort storie. Toe het ek hulle die storie gelees "A Shark in the dark" maar ek het dit losweg vertaal in Afr. Dit het almal se volle aandag geniet - dalk omdat ek dit so oordramatiseer het!

Wetenskap & Biologie:
Daarna het ons op youtube die viseiers videos gekyk en ook hoe haaie en walvisse uit die see spring.en ook van seeperdjies.

Kreatief & Fynmotories:
Toe gaan doen ons die seeperdjie prentjies

Alex wou eerder sy papiertjies buite die seeperdjie plak en moes hom heeltyd oortuig om dit binne te doen - maar nou ja hy het seker kunstenaarsvryheid of hoe?

Daniël het hoegenaamd nie belanggestel nie, hy het heeltyd kop onderstebo gesit en frons terwyl ek vir hom gewys het, so toe los ek hom maar.

Simeon het dit baie geniet en het elke liewe laaste dingetjie self geplak op sy prent. Hy het mooi gekonsentreer de heeltyd.
Verbeeldingspel:
Daarna het hulle buite gespeel in die tuin met die diere en dino's


Ek het ook vir hulle n groot stuk papier neergelê en bome en grotte vir die diere geteken en paaie vir die karretjies

Hulle self ook dinge bygeteken.



Snacktime:
Ons het toe geëet. weer die seewiere eier en pasta fritters, Simeon wou dit nie probeer nie, maar die ander twee het dit geniet. Hulle het ook popcorn gehad - die keer ongekleur - wat viseiers voorgestel het, maar die gedagte het amper vir Simeon daarvan ook afgesit, maar hy het darem later die moed bymekaar geskraap om dit te eet! Lyk my hy gril nogal maklik, te dierbaar.

Musiekwardering:
Ons het ook musiek geluister en gedans en dit was baie goed bygewoon!

Grootmotories:

En ons het die vilt vorms gebruik vir speletjies en veral Daniël was mal daaroor om op die vorms te spring. Ons het toe sommer n "hopscotch" paadjie uitgepak waarop hulle gespring het.

Verder het ons net vryspel gespeel en die laaste halfuur het ek hulle laat TV kyk want hulle was baie adamant daaroor!

oulike idees

worsie en spaghetti
spel met duplo
wowee windows!
Ink stamps

Terugvoer van 17 Feb 2011

Hi julle hier is wat ons gedoen het vandag. Gideon en Dirk was by my gewees vandag en die babas en Samantha.

Dit was 'n heerlike dag en alles het so mooi verloop (en dis net 'n genade want ek het nog 08:15 nie 'n clue gehad wat om met hulle te doen nie!)

Grootmotories:               
Ons het eers bietjie buite gespeel op die buitebande. Ons het dit in 'n ry getrek en treintjie liedjies gesing terwyl hulle daaroor geloop het en gebalanseer het.  (ek weet dis nie in die tema nie, maar Gideon het my 2 keer gedurende die dag gevra wanner gaan ons trein liedjies sing en trein prentjies inkleur...  dalk kan vervoer ons volgende tema wees?)

Fynmotories en kreatief:        
Dirk kon nie wag om vir Gideon te gaan wys dat ons seeperdjie prentjies gaan maak nie, so dit was volgende op die agenda. Dit was stukkies tissue papier wat ek geknip het voor die tyd wat hulle geplak het met klaletjies en sequins.Hier is die resultate:


Dit is Dirk se "glimlag vir die kamera" look.

Wetenskap:
Ek het hulle 2 videos op youtube gewys hoe vissies eiers lê en hoe die eiers uitbroei:
want dit sluit later aan by ons middagete.

Ruimtelike persepsie:
Daarna wou Gideon graag blokkies bou en hy was so kreatief om 'n vistenk te bou - heel toepaslik - ons het toe die badspeelggoed vissies daarin gesit.


Snacktime:
Toe het ons geëet. Ek het skroef pasta wat groen en rooi en geel gekleur was gekook en dit gemeng met 2 geklitsde eiers en gerasperde kaas en dit in die pan gebraai. Hulle het by my op stoele gesit. Ek het sommer gesê ons maak koekies met korale en seewiere in! :)


Vryspel:
Ons het buite gespeel en vir hulle elkeen 'n tuinslang gegee want hulle wou my help om die tuin nat te lei. Vele hande maak ligte werk!
en daarna het ek vir hulle "sticky vis eiertjies" gemaak. Dit is maar net versuikerde springmielies en hulle was mal daaroor as ek die deksel oplig en die mielies spring die wêreld vol! 

Ek het die blou gekleur omdat dit ons kleur vir die maand is

Dit wou nie droog word nie, so toe is dit maar sticky viseiertjies. Ek het dit vir hulle buitentoe gebring terwyl hulle met die tuinslange gespeel het en gevind hulle is papsopnat, toe ontklee ek hulle maar terwyl hulle die popcorn eet. Hulle begin toe om die blou suikerstroop oral op hulle lyfies te smeer! 


Gelukkig het ek die baba swembadjie byderhand gehad!


Hier is 'n video - Gideon het gedink dis vreeslik snaaks en wou dit omtrent 5 keer kyk!


Dit was 'n baie lekker dag vol pret!



Thursday, February 10, 2011

Die kinders se kunswerkies

Hulle was vreeslik trots hierop, dit moes selfs langs hulle bordjies staan toe hulle geëet het!



Wednesday, February 9, 2011

Tema: Die See

Die volgende 2 weke se tema is: Die See (Alhoewel ek dink daars soveel wat mens kan doen, dalk is ons lus om dit 'n derde week uit te rek tot die einde van Feb??)

Kuns projek:
Ek het die idee gesteel van Mister Maker op Televisie.



Dit is 'n plastiek bordjie waarop ek klapper vasgeplak het vir sanden dan kleideeg gemaak vir die rotse. Die pypskoonmakers kan mens verf of gekleurdes gebruik , die gekleurde geknipde strooitjies is korale, die haai is van spons gemaak. Die boontjies stel mossels of klippe voor en die vissies staan op tandestokkies ingesteek in die klei. Die seekat hier voor is 'n plastiek speelding. Dan kan mens nog alge en bamboese uitknip uit papier en dit ook in die klei indruk.

Taaloefeninge:
Woordeskat: Matroos, Albatros, Oester, Garnaal, Seegras, Seefauna, Seeflora, Lewensredderbaadjie, Skitterend, Walvis (uit die storie: 'n Opwindende Reis onder die see)

Idioom:
Soos 'n vis in die water    -    Baie Tuis
Die see kan hom nie skoon was nie  -  Hy is 'n baie slegte persoon

Rympie:

Onder die see diep en blou
Is baie diertjies waarvan jy hou
’n Skilpad, ’n ster, ’n seekat wat klou
Garnale en krewe wat die bodem skoon hou

Tussen seewier en gras word jy dalk verras
Daar’s ’n oester, ‘n pêrel, ’n jellievis wat skok
Maar pasop tog dat jy die kwaai haai nie lok
Soek eerder die liewe seeperdjie met sy grypstertjie.
Marlena Vernter

Wat is die meervoud van:

Een skulp, baie ________________
Een dolfyn, baie _______________
Een Pappa, baie  _______________
Een droom, baie _______________

Groot Motories:
Krap  -  Loop soos 'n krap deur op jou boede te gaan sit en dan jou lyf op te lig terwyl jy jou hande en voete op die grond hou - kyk wie kan die vinnigste krappie loop!
Jellievis  -  Staan regop en dril jou hele lyf soos 'n jellievis!
Duikboot  -  Blaas vanaand borrels in die bad.

Wiskunde:
Tel die vissies en skulpe (Kyk na uitgedrukte papiere)

Wetenskap:
Hoekom kan klein goggas op die water loop?
Doen Oppervlakspanning Eksperiment met 'n naald wat op water kan dryf 9Kyk na uitgedrukte papiere)

Skryf:
Maak ritmiese patrone - trek op die stippellyne (Kyk na uitgedrukte papiere)


Ietsie ekstra:
Maak jou eie badskuim - Dankie Ilonka, jy het dit reeds gedoen met Dirk en Alex!
Wat julle gaan nodig kry:     
                125ml sjampoe wat nie te erg gekleur is nie.
                180ml  water
                1.25ml sout
                Voedselkleursel van jou keuse
                Tandestokkie, lepel en mengbak
                Mooi bottel

In die mengbak – meng die sjampoe en die water.  Gooi dan die sout by en roer.
Dit word dikkerig na ongeveer ‘n minuut.
Voeg die kleursel bietjie vir bietjie met die tandestokkie by totdat jy met die kleur tevrede is.
Gooi dit nou in ‘n mooi houer en siedaar – badskuim!!